Wat begin het as ‘n gedagte om vir die onderwysers ‘n warm koppie koffie op die veld te bedien as ‘n dankie vir hulle opoffering in die koue, het gegroei tot ‘n wonderlike gebaar wat Vrydagoggend vroeg vir elke persoon op die skoolterrein met ‘n stukkie warm omgee bederf het.
Die Leipie leiers van 2020 het muffins en kleurvolle bekers met “Hug in a Mug” en ‘n sjokolade vir elkeen van die 50 personeellede en terreinwerkers geskenk. Daar was egter genoeg gewillige hande dat die ouers ook vir elkeen van die Graad 7’s ‘n muffin gebak het wat met hulle aankoms by die skool in ‘n geseelde sakkie vir hulle uitgedeel is.
Ons almal is dankbaar vir ons toegewyde terreinspan wat ons skoolgronde so netjies hou. As ‘n verdere blyk van waardering, het die leiers vir elkeen van ons 10 werkers ook ‘n geskenkpak opgemaak met ‘n dubbelbed kombers, warmwatersak met ‘n vrolike oortreksel, ‘n paar handskoene en mus, twee handgemaakte fleece serpe en ‘n geskenkkaart.