waardes

Omgee

Louis Leipoldt se waardes maak ons skool ekstra spesiaal!

OMGEE is ook een van ons waardes.  Afgelope Saterdag was hier groot pret by ons skool: alles gereël omdat ons OMGEE vir ander: veral die wie nie so baie het soos ons nie…

Almal van ons ken ‘n spieël!

Wat wys ‘n spieël?

  • Daar is ‘n storie van ‘n seuntjie wat alles gehad het wat sy hart begeer.
  • Hy het geen bekommernisse gehad nie.
  • In hulle groot huis was daar ‘n spesiale spieël – maar maak nie saak hoe groot sy glimlag was nie – hierdie spieël het dit nooit gewys nie.
  • Hy kon snaakse gesigte probeer trek- die spieël het hom altyd laat lyk of hy ongelukkig is.
  • Een dag by die skool is daar toe ‘n maat wat hartseer is.
  • Hy wou eers wegloop en maak of hy dit nie sien nie – maar het toe by die maat gaan sit en gesels en sy lekker kos met hom gedeel.
  • Na pouse het hy geweet dat die maat beter voel. Hy het gewys hy gee om.
  • Toe hy daardie middag by die spieël verbyloop – toe sien hy vir die eerste keer sy GLIMLAG in die spieël. ‘n Opregte glimlag!
  • Hy het toe besef dat die spieël eintlik wys hoe jou binnekant lyk.

Wanneer jy OMGEE vir ander – eers DAN glimlag jy REGTIG!

Die HERE is soos ons spesiale spieël. Hy kan sien wanneer jy iets spesiaal vir iemand anders gedoen het.  Hy weet wanneer jy omgee vir mense en diere.  Hy weet wat in jou hart aangaan en Hy gee OM vir ons.

Kom ons lees uit die Nuwe Testament: uit 1 Petrus 5:6-7

“Word daarop klein onder die kragtige hand van God; op sy tyd sal Hy julle groot maak.  Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy GEE vir julle OM.”

Sjoe – ons is sooo bevoorreg om te weet wie vir ons omgee!  Die HERE sê ons kan al ons bekommernisse vir HOM gee – want HY gee om!

Daar is ‘n spreekwoord wat sê:

‘n Glimlag is soos ‘n liggie in ‘n venster van ‘n huisie wat vertel daar bly iemand wat OMGEE daar binne!

Kom ons probeer hierdie week sommer maklike goed:

  • ‘n Glimlag wys dat jy OMGEE!
  • En ‘n vriendelike groet
  • of ‘n opregte kompliment
  • of by iemand gaan sit wat alleen lyk
  • of ‘n broodjie deel
  • selfs om jou Pritt en jou trui en jou goed op te pas wys dat jy OMGEE!

Kom ons gee weer OM hierdie week – gee om oor klein dingetjies want eintlik is dit die groot goed!

Kom ons bid!

HERE: wat sou van ons geword het as U nie vir ons OMGEGEE het nie?
Dan was nie een van ons vanoggend hier nie.
Leer my vandag om weer OM TE GEE vir myself, my goed, my boetie of sussie, my maats, my onderwysers, die werkers, my ouers.
Ons eer U as ons KONING en beste voorbeeld van omgee!

Liesje Bruwer

Een van ons waardes in Louis Leipoldt is EMPATIE!
Kom ons lees uit Lukas 10:30-37 van die barmhartige samaritaan om EMPATIE ‘n bietjie beter te verstaan.

Daar is ‘n bekende storie wat EMPATIE baie mooi verduidelik!  Dit gaan oor die boer wat klein hondjies wou verkoop.  Hy het hulle geadverteer.  ‘n Seuntjie klop toe eendag en vra of hy ‘n hondjie kan koop.  Die boer verduidelik toe eers dat dit duur hondjies is – maar dat hy hulle maar mag vryf.  Die boer roep toe die mamma-hond en al die wollerige hondjies kom toe natuurlik agterna gehardloop.  Maar heel agter kom daar toe ‘n klein kruppel hondjie al sukkelend agter sy woelige boeties en sussies aangestrompel.  “Ek wil asseblief daardie kleintjie koop”, het die seuntjie gesê.  “Maar seun, jy kan sien daardie enetjie gaan nooit saam met jou kan hardloop en speel nie want hy is gebreklik.”  Toe trek die seun sy langbroek op en wys vir die boer sy kunsbeen…  “Ek en hierdie hondjie verstaan mekaar, oom”.  Die boer het natuurlik die hondjie met ‘n opgewonde hart vir die seuntjie gegee!
EMPATIE beteken dat ‘n mens VERSTAAN waardeur iemand anders gaan…

(NET SENIORS):
Na hierdie afgelope eksamen kan ons seniors baie mooi die verskil tussen simpatie en empatie verduidelik!   Die onderwysers was simpatiek deur nie vir ons huiswerk te gee nie: hulle het geweet ons moet leer vir die eksamen, hulle was vir ons jammer.
Empatie gaan so bietjie verder.  Byvoorbeeld – dis NET ons Gr 7-groep wat met mekaar kon EMPATIE hê met al daardie Geskiedenis-datums wat ons moes leer!  Gats: dit was te veel om te tel! As ek alleen moes leer en alleen moes eksamen skryf: het ek sowaar weggehardloop!  Maar die feit dat ek geweet het my maats moet OOK leer en dis vir hulle ook moeilik: het dit vir my makliker gemaak.  Dis hoe EMPATIE werk…  Wanneer jy REGTIG WEET waardeur ‘n maatjie gaan – DAN het jy empatie.

(ALMAL):
Ek dink ‘n mens kan EMPATIE sien:
•    In ‘n vriendelike GLIMLAG!
•    As jy ‘n broodjie deel,
•    huiswerk vir ‘n siek maat neer te skryf of bel,
•    weet wanneer ‘n onderwyser nie ‘n lekker dag het nie: en te verstaan
dis EMPATIE!

Kom ons bewys EMPATIE in Louis Leipoldt: en begin by dit wat ons almal vandag kan deel: ‘n GLIMLAG!

Kom ons bid:
Dankie HERE JESUS dat U ‘n mens op aarde kom word het sodat U ook EMPATIE met ons as mense kan hê.
Dankie dat U elkeen van ons se omstandighede so goed ken en verstaan.
Dankie dat U ingryp waar dit nodig is, uitkoms bring waar mense na U roep.

Dankie dat U liefde vir ons genoeg is.
Seën ons skool en almal hier binne vandag en vir altyd!

Ons bid dit in die mooiste Naam wat ons ken: in die Naam van die HERE JESUS CHRISTUS!    AMEN

Pligsgetrou

As ‘n trotse Leipie is dit my plig om getrou te wees aan my skool. Dit maak my ‘n pligsgetroue Leipie, want pligsgetrouheid is een van ons skool se waardes.    Wat beteken dit om pligsgetrou te wees? Dit beteken dat ek altyd die werk wat ek moet doen en my pligte moet nakom, wat van my verwag word. ‘n Voorbeeld daarvan is om altyd my huiswerk te doen en om die skoolreëls na te kom.

As jy ‘n klasleier is, dan word daar verwag dat jy sekere pligte moet na- kom. Net so het ons ouers en ons onderwysers ook pligte wat hulle moet nakom. So is dit ons plig as Leipies om ons huiswerk op ons beste te doen.

In die natuur kom pligsgetrouheid ook voor. As jy gaan kyk na  miere en bye. Niemand sê vir hulle om te gaan kos en stuifmeel soek nie. Dit is in hulle natuur,  want hulle weet dat as hulle dit nie doen nie, gaan hulle nie oorleef nie.

So behoort pligsgetrouheid by ons ook tweede natuur te wees. Ek lees in Spreuke 12:24 : “Die wat pligsgetrou werk, word leiers; lui mense word slawe.”

Paul Sweers

In Geloof

In Hebreers 11:1 sê dit: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.” Luister na hierdie:

Lank, lank gelede was daar ‘n Idiaanseuntjie. Sy naam was Twee Vere. Hy het hard geleer om ‘n Indiaanse vegter te wees. Hy moes leer om diere te jag, spoor te sny en vis te vang, nes ‘n regte Indiaan. Toe Twee Vere die dag dertien jaar oud word, was daar net nog een laaste toets wat hy moes slaag. Dan sou hy ‘n regte Idiaanse vegter wees. Toe dit aand word, is Twee Vere deur die leiers van sy stam, na ‘n digte bos geneem. Daar moes hy die hele nag alleen bly. Twee Vere was nog nooit so ver weg van sy pa of ma nie. Sy hart het bang begin klop. Hulle het ‘n doek oor sy kop gesit en hom aan sy hand die donker bos ingevat. As hy die hele nag alleen daar sou bly, was hy reg om ‘n regte Idiaanse vegter te wees. Diep binne die donker bos het die mans die doek van Twee Vere se kop afgehaal , hom gegroet en alleen gelos. Twee Vere het baie bang geword. Dit was vreeslik donker. Hy kon niks voor hom sien nie. Hy was so bang daar kom ‘n wilde dier en eet hom op. Die hele nag het hy regop gesit en niks geslaap nie. Hy was nog nooit so bang nie! Toe dit uiteindelik begin lig word en die son se strale begin skyn, was Twee Vere baie moeg en baie bly die nagin die donker bos was verby. Hy was net so bly daar het nie ‘n wolf of ‘n beer gekom en hom opgeëet nie. Hy het opgestaan en rondom hom gekyk. Daar was blomme, baie bome en … Twee Vere kon nie glo wat hy sien nie! Nie ver van hom af nie, onder ‘n boom, het daar ‘n regte Indiaanse vegter met pyl, boog en spies gesit. Twee Vere se eie pappa! Twee Vere was die hele nag nooit alleen nie. Sy eie pa was die hele tyd by hom om hom te beskerm. Hy het dit net nie geweet nie.

Soos Twee Vere se pappa, so beskerm God, ons Pappa, ons. Geloof is om te glo dat, al kan jy dalk nie vir God sien nie, Hy altyd by ons is.

Aaron Tollig

Omgee

Wat beteken omgee? Omgee beteken om ‘n bietjie meer te gee as wat jy ontvang. Dit beteken nie jy moet NET groot goed doen nie, dis dikwels die klein goed wat ‘n groot verskil maak. Daar is elke dag so baie geleenthede waar ons vir mekaar kan omgee – ons moet dit net raaksien. As ‘n juffrou swaar dra, help haar. As jou vriend nie ‘n broodjie het nie, deel een van joune met hom. Partykeer is die omgee wat iemand nodig het, net ‘n drukkie of ‘n glimlag. In die Bybel in Psalm 41:2 staan daar: “Geseënd is die mense wat omgee vir die armes.”

God gee vir ons ‘n opdrag dat ons moet omsien na mekaar. Ons is tog God se hande en voete op aarde. Hier by Louis Leipoldt kan ‘n mens sien dat ons omgee vir mekaar. Met juffrou Lizet se water en klere- projek en juffrou Angelique se broodjieprojek sien ons elke dag omgee in aksie.

Nog ‘n baie voorbeeld van mense wat omgee is die CHOC organisasie. Hulle kyk na kinders wat kanker het en ondersteun hulle familie. Dit is ‘n baie moeilike en lang pad maar CHOC se omgee maak die las darem ‘n bietjie ligter.

Daar is n gesegde wat sê: “As jy parfuum op iemand anders sprinkel, val daar altyd ‘n paar druppels op jou ook.” Kom ons gee om vir mekaar – in die proses word jy self ook geseën.

Christelle Smit

RespekRespek

Kom ons gesels bietjie oor RESPEK: een van ons Leipie-waardes.

Watter woorde kan ‘n mens uit die woord RESPEK uithaal…

Behalwe spek?           RES + EK

So gaan respek oor die res en ek?

Kom ons hoor wat staan in die Bybel in

Spreuke 14:2:
“Die persoon wat opreg lewe, het respek vir die HERE.
Die een wat draaie loop het nie eerbied vir hom nie.”

Respek gaan eerste oor God, dan die res en ek.

Respek gaan daaroor om OPREG te lewe!

  • Dit beteken dat ek nie oneerlik of jaloers is
  • of slegpraat van ander nie.

Respek vir jouself beteken dat jy

  • trots is op jouself,
  • jouself oppas,
  • jouself netjies hou,
  • jou bes doen,
  • mooi dinge dink
  • en weet dat die HERE jou spesiaal gemaak het.

As jy dus opreg lewe beteken dit jy het respek vir die HERE en dan sien onderwysers en maats ook jou trots!

So kom ons onthou: RESPEK gaan oor GOD, die res en ek.

Kom ons bid saam:

  1. HERE – help ons om elke dag te besluit om OPREG te lewe.
  2. Leer ons om eerbied te hê vir U, ons ouers, onderwysers en maats.
  3. Ons bid dit in die mooiste naam wat ons ken: in die naam van die Here Jesus Christus!

AMEN

Liesje Bruwer

Empatie

Geagte personeel en maats

Wanneer ons partykeer val, of ‘n toon stamp of dalk ‘n arm breek of net hartseer is, is dit wonderlik as iemand vir jou sê “ek is so jammer dat jy seergekry het” of “ek voel jammer vir jou” of “ek kan sien jy voel nie lekker nie”. Die grootmense sê so mooi “my innige simpatie”. Ja, simpatie is om ander jammer te kry en saam met hulle te voel.

Ek wil vandag vir julle vertel van ‘n ander woord. ‘n Woord wat nie eers in die ou Afrikaanse Verklarende Woordeboek staan nie, om die waarheid te sê, ‘n woord wat nie eers in die Bybel staan nie. Tog, is dit een van die belangrikste woorde in ons lewe – die woord wat die Bybel juis wil hê ons moet uitleef. Daardie woord leer ons om nie net simpatie te hê of te voel nie; maar om iets te doen om die maat wat seergekry het of hartseer is, te help. Daardie woord is EMPATIE. Dit beteken dat jou simpatie so ver gaan dat jy iets doen om dinge beter te maak.

In die Bybel leer ons van empatie wanneer die barmhartige Samaritaan nie net jammer voel vir die man wat daar langs die pad lê nie, maar iets doen om hom te help, om sy wonde te verbind, hom op sy donkie te laai en na ‘n herberg te neem.

Empatie is om nie net vir n maatjie te sê ek is jammer dat jy nie vandag n broodjie het nie, maar om joune te deel. Empatie is om so baie te voel dat jy iets doen om dit vir jou maatjie beter te maak. Dis die barmhartigheid wat die Bybel van praat. Hier by ons skool, noem ons dit omgee.

Ek is so trots om deel te wees van ‘n skool waar ons omgee; waar ons so baie omgee dat ons die Leipie Omgee Groep het waarvan ons almal deel kan wees. Waar ons nie net jammer is, of jammer voel nie, ,maar waar ons iets doen om dit vir ander beter te maak.

In Miga 6 vers 8 lees ons hierdie vraag:

Wat vra die Here van jou anders as om reg te doen?

Kom ons bid saam: Here, help ons asseblief vandag en elke dag dat die simpatie wat ons voel, sal verander in Empatie wat doen. Sodat ons kan help om die wêreld vir ons maats en ander mense ‘n beter plek te maak. Amen

Rochelle Bothma

Respek

Toe die Voortrekkers oor die heuwels, vlaktes en berge getrek het, het hulle ossewaens gebruik. Dis osse is voor die wa ingespan en hulle is op die naam geken. So is Vetsak, Agteros en Patat ingespan want hulle kon goed trek en rigting hou. Baie dankie dat julle my as hoofleier voor die wa ingespan het! Dit is ‘n groot voorreg, en ons leiers se taak om te trek en rigting te hou. Ongelukkig kan Patat en Agteros nie alleen die vrag trek nie, maar as ons Louis Leipoldt-span saamwerk, kan ons wawiele laat knars. Om ‘n agtermekaar span te wees, wat lekker saamwerk, het ons respek nodig. Respek? Kom ons plaas daai wollerige woordjie onder die vergrootglas. Dit kom neer op eerbied. Daar is TWEE goed waarvoor jy repek hoef te hê:

  1. Eerstens alles wat lewendig is, en
  2. Tweedens alles wat nie lewendig is nie

Onder alles wat lewe, verstaan ons plante, diere, mense… God se hele skepping in al sy prag! Ons het die opdrag gekry om Sy skepping op te pas. Die opdrag geld vir elkeen van ons wat hier voor my in die saal sit, en dit begin by selfrespek. Selfrespek en liefde loop hand aan hand. Liefde vir jouself sowel as liefde vir jou medemens. In Markus 12, gee Jesus Christus vir ons die belangrike opdrag om jou naaste lief te hê soos jouself. Respek vir jou eie liggaam en ander se liggame, want ons is in God se beeld gemaak. So moet ons ook die natuur by ons skool, soos die plante nie beskadig nie, en nie onnodig water mors en krane oop los in die badkamer of op die speelgronde nie.

Wat nie leef nie, moet ook opgepas word en hier op ons skoolgronde is daar soveel wat ek kan opnoem: skoolgeboue, skoolbanke, boeke, tasse en skoolklere. Dit sluit in om nie ons kosblikke en papiere te strooi dat die doer trek nie.

Ons is ‘n BONTSPAN, dit is ‘n uitdrukking vir ‘n deurmekaar klomp osse, en uiteenlopend mense in ons skool, maar met liefde en respek kan ons lekker saamwerk. Waar die personeel die leidsels in die hand neem is ons leiers ingespan sodat ons kan padvat. Ek sal die Leipie ossewa met trots trek, maar moet my net nie Patat, Vetsak of Ahteros noem nie.

Sebastian Olivier 2015

Integriteit in Sport

Integriteit is ‘n baie groot woord en baie van julle weet seker nie wat dit beteken nie.

Ek gaan probeer om dit vir julle te verduidelik deur gebruik te maak van Sport as ‘n voorbeeld.

Integriteit op die sportveld is wanneer spelers ten alle tye eerlik, opreg en regverdig is. (Byvoorbeeld: as die bal uit is, dan sal jy jou opponent of die skeidsregter laat weet dat die bal uit is of as jy voor die tyd weggespring het sal jy erken dat jy dit gedoen het. Jy sal ook nie verbode middels gebruik om jou ‘n onregverdige voordeel te gee nie.)

As jy Integriteit op die sportveld het, sal jy ten alle tye goeie “sportmangees” hê. As iemand val sal jy hulle ophelp, as iemand jou per ongeluk seermaak sal jy hul dadelik vergewe, as jou span verloor sal jy die ander span hartlik en vriendelik gelukwens. Jy sal dadelik aanvaar dat die ander span die beter span was en jy sal nie huil of lelik wees na die tyd nie.

Weet julle: As jy Integriteit op die sportveld het, is dit jou sleutel tot sukses! Mense met Integriteit kan dinge laat uitwerk, ongeag hul omstandighede.

En weet julle, sukses op die sportveld het nie net met talent en intelligensie te doen nie, want daar is baie slim en talentvolle mense wat nooit sukses behaal nie.

Die ware sleutel tot sukses lê in jou karakter en Integriteit is deel hiervan en wat so wonderlik is, is dat jy dit nog steeds elke dag kan ontwikkel as jy daarop konsentreer en vir Jesus vra om jul daarmee te help!

Megan Rabe

Integriteit

Geagte personeel en maats,

In ‘n opsomming van Psalm 97 lees ons die volgende:

  • Die Here se troon is gebou op reg en geregtigheid
  • Die hemel getuig dat hy regverdig is.

En in Psalm 101 sê Dawid: Ek haat wat verkeerd is. In Job 35 vers 8 staan: Jou sonde raak jou medemens.

Ek praat vandag graag oor ‘n groot word vir iets wat eintlik baie eenvoudig is, en daardie word is INTEGRITEIT.

Van kleins af leer ons van integriteit, ons leer van:

  • Reg en verkeerd
  • Van goed en sleg
  • Van waar en vals
  • Van eerlik en oneerlik

Ouers en onderwysers leer ons hiervan en dan het ons elkeen ‘n stemmetjie in sy hart wat ons gedurig herinner aan hierdie verskille. Daardie stemmetjie noem ons GEWETE.

Integriteit…

  • Is om altyd eerlik te wees al sien niemand wat ek doen nie.
  • Dis om niks te vat wat nie aan jou behoort nie.
  • Dis om nie te jok wanneer ek in die moeilikheid is nie.
  • Dis om nie sleg te praat van iemand nie.
  • Dis om so op te tree dat ander op my kan staatmaak.
  • Dis om op die sportveld eerlik te wees.
  • Dis om jou beloftes na te kom.
  • Dis om eerlik met geld te werk.
  • Dis om ander mense met respek te behandel en nie te dink ek is beter as hulle nie.
  • Dis om stil te bly wanneer ek iemand gehelp het, en nie ‘n bohaai daarvan te maak nie.
  • Dis om nie vloekwoorde te gebruik nie.
  • Dis om nooit te kul of te verneuk nie.
  • Dis om by ‘n stopstraat en ‘n rooilig te stop, en nie te vining te ry nie.
  • Dis om nie in jou motor of in ‘n geselsskap jou selfoon te gebruik nie.
  • Dis om jou eie liggaam te eer en op te pas.
  • Dis om ander mense met respek te behandel.

As ons almal met integriteit geleef het, sou daar geen oneerlikheid, geen misdaad en geen vyandskap gewees het nie.

As jy vanaand in die spiel kyk voor jy bed toe gaan, kan jy vir jouself sê?: Vandag was ek eerlik, opreg betroubaar? Kan jy sê: Vandag het ek my maats met respek en omgee behandel?

Dan kan jy ook sê: vandag het ek met integritrit geleef.

Kom ons bid saam: Liewe Heer, help my asb elke dag om in alles wat ek doen en alles wat ek sê, eerlik en opreg te wees. Amen.

Rochelle Bothma