Sparks

Kinders wat weet wie hulle is en wat opstaan vir wat reg is, is die fondasie van wat ons vir die kinders wil leer by die CSV. Ons wil hulle help om hulle identiteit in Christus te vind en sodoende ‘n verskil in die skool, in hulle huise en by hulle vriende te gaan maak. Ons het die ongelooflike voorreg om die kinders te bedien met God se woord en te sien hoe hulle God begin vertrou vir die groot maar ook die klein goedjies in hulle lewens.  

Ek is saam met die onderwysers ongelooflik opgewonde oor die groei wat ons sien die afgelope paar weke. Ons bedien gemiddeld 300 kinders per week by die CSV. Ons het CSV vir die seniors Woensdae 1ste pouse en vir die Juniors Woensdae 2de pouse, sodat ons hulle op hulle eie vlak kan bedien. Ons sing gewoonlik saam en doen dan iets prakties soos ‘n speletjie wat gebruik kan word om die lessie dan vas te lê sodat hulle dit kan onthou! 

Ek het ook die voorreg om bietjie met die kinders te gesels wat deur moeilike omstandighede gaan, saam met hulle te bid en iemand te wees met wie hulle kan kom gesels oor enige iets. Daar is so baie kinders wat vrae het sonder antwoorde en seer het a.g.v. goed wat gebeur het in hulle lewe. Ek wil vir hulle Goddelike perspektief gee sodat hulle weet dat maak nie saak wat nie, God is lief vir hulle en sal hulle nooit alleen los nie. My hart is dat hulle genesing sal ervaar op elke vlak! 

Ons sien regtig uit om te sien hoe God die anker van Louis Leipoldt gaan wees, in die kinders, ouers en onderwysers se lewens! 

Alida Jansen van Rensburg
Jeugwerker