Desember 2015

Nuwejaarsfees: DITSONG: Pionier Museum

Die jaarlikse Nuwejaarsfees word op Vrydag, 1 Januarie 2016 by die DITSONG: Pionier Museum in Silverton, Pretoria, aangebied.

Hierdie tradisionele gesins-en familiefees met aktiwiteite vir jonk en oud, word sedert 1977 by die Museum gevier en vanaf 1999 deur die ATKV (Afrikaanse Taal en Kultuurvereniging) bygestaan. Die ATKV takke wat tans betrokke is, is ATKV Jakaranda en ATKV Aksie en Woordvreugde.

Alhoewel die fees om 10:00 begin, arriveer gesinne dikwels vroeër en span uit op die lowergroen grasperke met hul eie koffie en beskuit. Boeresportaktiwiteite begin reeds om 08:30. Musiek word heeldag verskaf, terwyl oud en jonk kan deelneem aan Boeresport soos sakresies, toutrek en ballongooi (‘n moderne weergawe van eiergooi, aangesien daar nie met kos gemors word nie) en feesgangers moet verseker ook nie die pret paddaspring- kompetisie misloop nie.

Die hoogtepunt van die dag is gewoonlik die sweepklapkompetise waar deelnemers in verskillende ouderdomsgroepe meeding om die gesogte wisseltrofee.

Kultuurdemonstrasies soos die maak van vetkerse, karring van room tot botter, asook die maal van koffiebone vind by die 1848 Pioniershuis plaas. Kom kyk hoe ‘n buite bakoond voorberei word en geniet vars, warm brood direk uit die oond. Kom geniet ‘n sny met regte botter en konfyt, of kom staan saam tou vir heerlike pap en kaiings. Gidse in periodedrag uit die 1840’s bied begeleide toere deur die waenhuis aan.

Verskeie interessante vlooimark-stalletjies kan besigtig word en om die honger mae te vul sal daar kos te koop wees, maar as jy nie wil koop nie, bring jou eie piekniekmandjie of braaigoed en benut ons piekniekterrein en braaigeriewe.

Navrae kan gerig word aan Pionier Museum: (Caroline Griessel) 072 323 9758 / 071 646 0508, caroline@ditsong.org.za of ATKV (Soekie Nel) 073 0368 697

Toegangsfooie is R20 per volwassene, R10 per leerder onder 12 jaar en gratis vir voorskoolse kinders onder 3 jaar.

Voldoende parkering is beskikbaar.

Hekke open om 06:30 vir uitstallers en vir die publiek om 08:00. Die fees eindig in die laatmiddag.

Ingang in Keuningstraat vanaf Watermeyerstraat, Meyerspark en vanaf Fred Daveystraat uit Pretoriaweg, Silverton.

GPS Koordinate                S25◦ 44’6,94”    E28◦ 18’34,38”