TOMS ‘n internasionale aanlyn winkel, het ‘n spesiale visie vir kinders en mense in nood. Vir elke paar skoene of ‘n bril wat deur hulle aanlyn bestel word, skenk hulle óf ‘n bril óf ‘n paar skoene aan mense in nood. Elke jaar bied hulle ‘n “Een dag sonder skoene” projek wêreldwyd aan en mense word aangemoedig om deel te neem. Op die dag moet jy onderneem om vir die hele dag sonder skoene te loop – werk toe, skool toe, waarheen jy ookal gaan. Sodoende word daar ‘n bewustheid geskep dat daar miljoene mense regoor die wêreld is wat nie skoene het nie en selfs onder ‘n bril moet klaarkom.

Laas jaar het een van ons Leipie Mamma’s die inisiatief by haar werk begin en ‘n donasie per plakker gevra. Al die geld wat ingesamel is het hulle vir die Leipie Omgee projek geskenk. Die pragtigste, warm komberse en selfs skoolskoene is vir ons eie Leipie maters wat deel uitmaak van die projek,  gekoop.

Die jaar het sy besluit om dit bietjie verder te vat en selfs ‘n kleuterskool in die omgewing, Kleutermaatjies, gevra om betrokke te raak. Hulle het met groot opwinding deelgeneem en plakkers teen R5-00 elk verkoop. Hulle het die pragtige bedrag van R1,005-00 ingesamel. En ja, julle het reg geraai al die geld gaan weer ten bate van ons eie Leipie Omgee projek. ‘n Baie groot dankie aan die mamma, Adele Marais en Kleutermaatjies wat onder leiding van die skoolhoof Engela Mc Master en haar span (Rochelle en Adri) soveel moeite gedoen het.

Die Leipie Omgee projek (www.leipieomgee.co.za) help tans 19 gesinne in ons skool wat finansieël swaarkry. Dankie Leipie maats en ouers wat die projek ondersteun en ons sodoende help om Jesus se liefde tasbaar uit te leef!